Loopbaanvoorligting
Loopbaanvoorligting aan voornemende studente
Die Sentrum vir Voornemende Studente (SVS) bied, in samewerking met geregistreerde sielkundiges, professionele voorligtingsdienste om leerders te bemagtig om ingeligte vak- en loopbaankeuses te maak. Die volgende dienste word aangebied:
Graad 11- en 12- loopbaanvoorligting
Hierdie diens behels 'n psigometriese assessering van persoonlikheid, aanleg en belangstellings, individuele gespreksessie, asook 'n geskrewe verslag van die resultate en aanbevelings.
Aanbevelings word objektief, onpartydig en met inagneming van die leerder se profiel, gemaak. 'n Verskeidenheid van programme van verskillende tersiêre instansies word aan die kliënt bekend gestel. Leerders word ook aangemoedig en bemagtig om self gerigte loopbaannavorsing te doen, ten einde moontlike loopbaan- en studiebesluite te kan maak.
Koste van bogenoemde dienste
Die koste is R1 300 per individuele leerder en sluit 'n 4 - 4,5 uur lange assesseringsessie, 1 uur persoonlike terugvoer en 'n geskrewe verslag in.
Hierdie diens word ook by sekere skole in die Wes-Kaap aangebied ('n minimum aantal leerders moet deelneem).
Die volgende assesseringsinstrumente word gebruik:
1. Belangstellingsvraelyste
Twee gestandaardiseerde belangstellingsvraelyste word gebruik, wat die volgende assesseer:
- Belangstelling in verskillende werk-gerigte aktiwiteite met die oog op vakkeuses (gr 9’s) en verdere loopbaanbeplanning.
- Identifiseer ook ’n kombinasie van sterk en ondersteunende loopbaanbelangstellings en gee ’n aanduiding van belangstellings wat laag is en dus beperk behoort te word met betrekking tot loopbaankeuses.
2. Persoonlikheidsvraelys
Hierdie gestandaardiseerde vraelys word gebruik om ’n kliënt se unieke persoonlikheidsvoorkeur te bepaal en om te kyk watter toekomstige werksomgewing sy/haar persoonlikheid moontlik sou komplementeer, bv hoeveel interpersoonlike kontak hy/sy wil hê, hoeveel struktuur nodig is in daaglikse take ens.
3. Aanlegtoets
Hierdie gestandaardiseerde toets gee ‘n aanduiding van ‘n kliënt se relatiewe sterkpunte ten opsigte van akademiese vermoë relatief tot ’n gestandaardiseerde verwysingsgroep (dws portuurgroep met vergelykbare opvoedkundige agtergrond). As deel van ’n omvattende assesseringsbattery kan aanlegtoets uitslae aangewend word om moontlike sukses in spesifieke studierigtings / opleidingsprogramme / loopbaanvelde, te bepaal.
Navrae en besprekings
Sentrum vir Voornemende Studente
Tel: 021 808 4709
Faks 021 808 4708
E-pos: maties@sun.ac.za





