|
Koshuise
Die koshuise vorm die hart van die kampuslewe en Matie-wees. Hier word vriendskapsbande gevorm en versterk, kultuurverskille ontdek en geniet. Hier word ook 'n groepgees opgebou deurdat koshuisinwoners saam deelneem aan sportkompetisies, en ander formele en informele bedrywighede.
Op die Stellenbosch-kampus is daar 12 vrouekoshuise, nege manskoshuise en twee gemengde koshuise. Studente wat in enige van hierdie koshuise geplaas word, is onder die toesig van die koshuis se inwonende hoof, wat op sy/haar beurt bygestaan word deur 'n aantal senior studente wat as raadgewers optree. Hierdie raadgewers help studente om 'n verskeidenheid sake te hanteer, hou toesig oor die gebou se sekuriteit en instandhouding en beplan talryke opvoedkundige en sosiale programme vir die studente.
Elke koshuis is toegerus met moderne wasgeriewe en 'n gemeenskaplike woonkamer om in te kuier, televisie te kyk, of om sommer net in rond te sit. Al die vrouekoshuise en party van die manskoshuise het 'n gemeenskaplike en/of privaat sitkamer waar besoekers ontvang en onthaal kan word. Die meeste koshuise spog met 'n pragtige binnehof en/of tuin om in te ontspan. Elke kamer het 'n netwerkpunt wat jou onder andere toegang bied tot die universiteit se netwerk, elektroniese inligtingsbronne, die Internet en e-leerhulpmiddels. Bring dus gerus jou eie rekenaar saam. Kyk hier vir rekenaarspesifikasies.
Universiteit Stellenbosch se koshuise lê hulle daarop toe om 'n kampusomgewing te skep wat studie en persoonlike en sosiale ontwikkeling bevorder. Daarom laat die Universiteit se alkoholbeleid nie die gebruik van alkohol in sy koshuise/woonstelle/huise toe nie, behalwe op goedgekeurde plekke.
|
 |