Dit is vir die Universiteit Stellenbosch baie belangrik om 'n bydrae te lewer tot die uitbou van belangstelling en vaardighede in die velde van wiskunde, wetenskap en tegnologie.
Die Standard Bank-Maties Wiskunde-en-Wetenskapsweek is so ʼn inisiatief wat deur die Universiteit in samewerking met fakulteite, iThemba Labs, die MTN ScienCentre, TRAC en SUNSTEP aangebied word. Vanjaar word daar weer meer as 30 verskillende werkswinkels in bykans 120 werksessies aangebied.
Alle Graad 10 – 12 leerders met Fisiese Wetenskappe, Wiskunde of Lewenswetenskappe as vak, word genooi om werkswinkels gedurende 23 - 25 Maart 2010 op die Stellenbosch-kampus te kom bywoon.
Vanjaar word Graad 9-leerders ook genooi om die Wetenskapvertoning, wat daagliks vanaf 09:00 - 10:00 by die Paul Roos Sentrum aangebied word, by te woon. Tydens hierdie vertoning kan leerders ervaar hoe wetenskap op 'n lawwe en prettige manier ten toon gestel word en ook meer leer oor watter vakke hulle benodig om op Universiteit te studeer.
Werkswinkels word aangebied deur Universiteitspersoneel en senior studente na aanleiding van hulle kundigheid, praktiese en eksperimentele vaardighede en bekwaamheid in aanbiedings.
Bywoning is gratis, maar bespreking is noodsaaklik.