Teologie
Die Fakulteit Teologie het ontwikkel uit die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se Kweekskool, gestig in 1859. Sedert 2000 is die Fakulteit nie meer ’n seminarium van een Kerkgenootskap nie en lei predikante vir die NGK, die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) in Suid-Afrika , die Uniting Presbyterian Church in Southern Africa (UPCSA) en die Anglican Church of Southern Africa volgens ooreenkoms op. Christelike gereformeerde teologie is die uitgangspunt van onderrigprogramme wat aan ’n volle spektrum studente uit verskeie denominasies en lande gebied word.
Onderrig is tweetalig in Afrikaans én in Engels (T-spesifikasie of dubbelmedium) volgens die behoeftes van die studente. Die opleiding en onderrig word, soos die navorsing, wetenskaplik benader. Dit word aangevul deur ’n praktiese, gemeenskapsgerigte klem op maatskaplike vraagstukke soos MIV/vigs, armoede, geweld, menswaardigheid, ekologie en geregtigheid.
Die Fakulteit Teologie is die kleinste een aan die Universiteit – wat meebring dat ons gasvry, energiek en kreatief is, maar nog steeds kan verseker dat ons wetenskaplike teologie met integriteit beoefen.





