Ingenieurswese
Ingenieurswese bied uitstekende loopbane vir mans en vroue. Professionele ingenieurs is in die eerste plek gemoeid met die vooruitgang van tegnologie deur innovasie, kreatiwiteit en verandering. Hul werk vereis oorspronklike denke en ’n goeie oordeelsvermoë, en fokus op mense en tegnologie.
Die vierjarige Baccalaureus in die Ingenieurswese-programme (BIng) rus jou toe met ’n breë kennisbasis. Al die studente neem dieselfde vakke in die eerste jaar en begin dan in hul tweede jaar spesialiseer in die rigting waarin hulle verder wil studeer. In die eerste twee jaar word ’n fondament van wiskunde en die natuur- en ingenieurswetenskappe gelê, en in die derde en vierde jaar leer jy hoe om jou kennis toe te pas om tegniese en besigheidsgeleenthede te ontgin. Met die breë kennisbasis van die BIng kan gegradueerdes ’n groot verskeidenheid betrekkings volstaan in die ingenieursbedryf én daarbuite. Hulle is dikwels entrepreneurs en stig en bestuur hul eie maatskappye.
Professionele akkreditasie en internasionale erkenning
Die BIng-programme is deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) geakkrediteer, wat vir ons gegradueerdes toegang gee tot registrasie as Professionele Ingenieurs na verwerwing van toepaslike ondervinding in die praktyk. Ingevolge die Washington Accord word ons BIng-grade ook in verskeie lande in die wêreld erken, soos Australië, Kanada, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika, om ’n paar te noem.
Onderrigtaal
Vanaf 2014 sal alle voorgraadse studente al hul lesings in die taal van hul keuse, Afrikaans óf Engels, kan ontvang. Alle toets- en eksamenvraestelle en werksopdragte word ook in Afrikaans én Engels opgestel, en studente mag enige vraestel of opdrag in Afrikaans óf Engels beantwoord.
Wanneer ’n module vir meer as een klasgroep aangebied word (alle eerstejaar- en baie tweedejaarmodules), word die module in parallelmedium aangebied (ten minste een klasgroep in Afrikaans en ten minste een klasgroep in Engels).
Wanneer ’n module net vir een klasgroep aangebied word, word intydse tolking aangebied, dit wil sê as die dosent Engels praat, dan word die lesing na Afrikaans getolk, en as die dosent Afrikaans praat, dan word die lesing na Engels getolk. Elke student kan self kies om die tolking te gebruik of nie.
Alle nagraadse programme word volledig in Engels aangebied.
Navrae
Kliëntedienssentrum
Tel.: 021 808 9111
Faks: 021 808 3822
E-pos: info@sun.ac.za
Webwerf: www.eng.sun.ac.za





